Wednesday, June 06, 2007

Die son skyn nog helder in die land van Kokanje


Vir almal wat nou nie weet wat die land van Kokanje beteken nie, dis daardie denkbeeldige luilekkerland waar niemand werk nie en almal lekker leef. Die spreekwoordelike land van melk en heuning. Wel, dis mos soort van die uitkyk wat sommige mense het oor Australië. Ek dink maar al die hoopvolles in die emigrasie resies (net soos ons) moet maar in 'n mindere of meerdere mate die doel voor oë hou om te kan moedhou en aanhou....want kopuittrekgeleenthede is daar baie. Die foto hierbo van "speak no evil, see no evil en hear no evil" het ek afgeneem in Sydney se strate oppad na Central station. Hopelik het ons nie met toe oë die Australië besluit geneem nie...ons het probeer om deurentyd realisties en eerlik met onsself te wees. Die besluit kon darem oor 'n tyd van 9 maande goed vorm aanneem. Dit help baie as mens so af en toe in jou gedagtes besef daar lê 'n moewiese bult reeds agter jou en dat dit nou nie meer so maklik is om terug te keer Suid Afrika toe nie. Maar wees in jou hart net baie eerlik met jouself en weeg al die voor en nadele op, want as jy teen jou sin of impulsief hierdie besluit geneem het gaan dit vir jou baie erg wees as jy besef jy is nou in 'n verre land en jy moet dinge LAAT WERK vir jou hier. Jy gaan verseker 'n metamorfose in jou lewe deurgaan...om hopelik sterker en beter aan die anderkant uit te kom.

Ons raak nou al hoe meer ingeburger in ons nuwe land. Gister het ek 'n 12 maande huurkontrak gaan teken, wat beteken dat ons nou uiteindelik 'n meer permanente blyplekkie hier in die vreemde het. Ons het ook gister die pynlik groot bedrag van $9000 betaal vir die skoolgelde in New South Wales omdat ons nog net op 'n tydelike VISA hier is. (Dit is vir 'n jaar se skoolgelde...maar ons sal ten minste die helfte terugkry wanner ons "Permanent Residence" deurkom aan die einde van die jaar. 'n Sak vol geld!! Het dit gepos aan die "NSW Department of Education and Training" en hulle sal dan aan die "Oakhill Drive" laerskool in Castle Hill bevestig dat ons goedkeuring het om ons kinders in die skool te sit. Die skoolhoof daar (sy naam is David) is 'n besonder vriendelike man (ons het sommer dadelik van hom gehou).

Vandag ontmoet ek die mense by my werk. Sien nogal uit, maar is ook bietjie bang. Hulle het oor die telefoon baie vriendelik geklink. Ek begin van die 12de Junie af daar werk. Ek gaan bus ry tot op die stasie en dan met die "Northern Line" trein tot naby my werk. Van die stasie tot by die werk gaan ek stap. Mens kan die 131500 website gebruik om te bepaal watter busse en treine mens moet vang werk toe en hoe lank dit sal neem.

Hier is 'n foto van die voorstedelike treine op die stasie. Die rit is ongelooflik sag...dit voel kompleet of die trein op 'n lugkussing sweef.




Posted by Picasa

Dit is nou wel nie die "Soetste paradys" waaroor Jim Reeves in sy liedjie "Tahiti Verre Land" sing nie, maar ons gaan hier ons lewe maak:

Tahiti verre land! O soetste paradys!
Daar waar die palmbome saggies suis...
My hart verlang terug - geluk wag op my daar:
aan haar wil ek my liefde openbaar.

Die ure saam kan ons twee nooit vergeet,
want ons behoort vir ewig aan mekaar.
Tahiti verre land! O soetste paradys!
Daar waar die palmbome saggies suis...


1 comment:

  1. Ons wonder hoe sal "n wittebroodsvakansietjie op Tahiti wees, maar weet niks van die plek behalwe die ou liedjie nie. Wou toe sien hoe word die plek beskryf in die liedjie. Terwyl ek toe die woorde soek van "Tahiti verre land .." kom ek so heel toevallig op jou blog af. Baie interessant! BAIE goed gedoen, en al die gerieflike skakels, en die AFRIKAANS. Mal daaroor!! Terloops - Weet jy of dit die hele liedjie is? Liz van Pretoria

    ReplyDelete

Los vir my n boodskap...komaan wees n sport !
Ek lees alle kommentaar eers voor ek dit publiseer.

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings