Saturday, December 29, 2007

Ontmoet Loukie : Ons klein Maltese Shih Tzu brakkie

Onthou julle nog hoe ons moes askeid neem van ons hondjie in Suid Afrika. Wel, ons het toe mos besluit om daai ou plekkie in ons harte weer te vul deur vir ons weer 'n ou troetelbrakkie aan te skaf. Hy is 'n kruising tussen 'n Maltees en 'n Shih Tzu (wat "Lion Dog" beteken). Hierdie honderas is uit Tibet en China afkomstig en is een van die heel oudste honde rasse.

Ons het hom die naam "Loukie" gegee, afkomstig van die naam "Loutjie", omdat dit makliker hier in Oz uitgespreek kan word. Hier word die honde ge-microchip en op die eienaar se naam geregistreer, dus het Loukie 'n nommer en 'n huisadres in hom. Hy is baie soet en herinner mens baie sterk aan 'n "Soft Toy". Daarby is hy ok so lig soos 'n veertjie.






Afrikaans is springlewendig op die Web

Vir almal wat nog nie gehoor het van UITSAAINES LIVE nie. Dit is 'n nuwe wêreldwye Afrikaanse Internet radiostasie wat 24 uur per dag mooi Afrikaanse musiek speel.

Die Internet Radiostasie is op die been gebring deur Raymond Greenberg (oftewel Kraai) en hy finansier die radiostasie op die oomblik hoofsaaklik uit sy eie sak. Hy is beter bekend vir sy betrokkenheid by Kraaipromosies, wat afrikaanse kunstenaars bestuur en bevorder. Hy is woonagtig in Suid Afrika.

Hy saai daagliks uit tussen 20:00 en 22:00 (RSA tyd) en Maandae en Vrydae net tussen 21:00 en 22:00.

(In Sydney is dit dus tussen 05h00 en 07h00 in die somermaande en tussen 04h00 en 06h00 in die winter, die volgende dag)

Saam met 'n span radio omroepers, saai die radiostasie 24 uur per dag, 7 dae per week Afrikaanse musiek uit oor die Kuberruim.

Hanlie Greenberg, Kraai se vrou, saai uit op Vrydae tussen 13h00 en 14hoo (RSA Tyd).

(In Sydney is dit dus tussen 22h00 en 23h00 in die somermaande en tussen 21h00 en 22h00 in die winter)

Op Sondae tussen 21h00 en 22h00 (RSA tyd) help sy Raymond met Vrystaat Mambo.








Jaques van Rooyen, wat elke dag 12h00 (RSA tyd) sy program "Kuier met Jaques" vanuit Japan uitsaai, is die man agter die Internet Forum (goggaweb.com), waar mede Suid Afrikaners met mekaar kan chat oor alles en nog wat.

(In Sydney is dit dus tussen 21h00 en 22h00 in die somermaande en tussen 20h00 en 21h00 in die winter)











Dagilli , wat uitsaai vanaf Seattle in die VSA saam met sy vrou Patrys, bied Saterdae tussen 04h00 en 06h00 (RSA tyd) die radioprogram "Slaaploos in Seattle" aan. (In Sydney is dit dus tussen 13h00 en 15h00 in die somermaande en tussen 12h00 en 14h00 in die winter)

Tussen 17h00 en 19h00 (RSA tyd) bied hy "Saterdag versoeke" aan. (In Sydney is dit dus tussen 02h00 en 04h00 in die somermaande en tussen 01h00 en 03h00 in die winter, die volgende dag)



Patrys, Dagilli se vrou, en ma van 3 kinders. Sy en haar man is al 14 jaar oorsee. Sy bied 'n weeklikse radioprogram vir Dames aan op Dinsdae tussen 14h00 en 15h00, genaamd "Skrop saam met Patrys".

(In Sydney is dit dus tussen 23h00 en 24h00 in die somermaande en tussen 22h00 en 23h00 in die winter)








Chris, van die Wes rand in Suid Afrika, saai boeremusiek uit vanaf die RSA op Dinsdae en Saterdae, tussen 21:00 en 22:00 SA Tyd.

(In Sydney is dit dus tussen 06h00 en 07h00 in die somermaande en tussen 05h00 en 06h00 in die winter, die volgende dag)





Frans Maritz saai sy gewilde Afrikaanse Country musiek program op Maandae en Vrydag aande tussen 20:00 en 21:00 (SA Tyd) uit vanaf Suid Afrika.

(In Sydney is dit dus tussen 05h00 en 06h00 in die somermaande en tussen 04h00 en 05h00 in die winter, die volgende dag)







Janie, saai op Maandae 19h00 en Donderdae aande om 22h00 (RSA tyd) uit vanaf Spanje.

(In Sydney is dit dus 04h00 en 07h00 in die somermaande en 03h00 en 06h00 in die winter, die volgende dag)

Nogal bietjie vroeg vir ons as jy my vra.




DALENE, wat uitsaai vanaf El Paso in die VSA op Dinsdae en Donderdag aande om 19:00.

(In Sydney is dit dus 04h00 in die somermaande en 03h00 in die winter, die volgende dag)








Chef Sharkie saai uit vanaf Gilbert, Arizona, VSA. Sy progra "Roer en Proe saam met Chef Sharkie" handel oor kos op Woensdag aande vanaf 22:00 - 23:00 (RSA Tyd)

(In Sydney is dit dus tussen 07h00 en 08h00 in die somermaande en tussen 06h00 en 07h00 in die winter - op Donderdag oggende)




Marli en Dr. Roger Thomas bied op Maandag aande 7:30pm, en Saterdae aande 8:30pm SA tyd die program "Wat sê die dokter aan".

(In Sydney is dit dus 04h30 en 05h30 in die somermaande en 03h30 en 04h40 in die winter, die volgende dag)


Vir meer volledige inligting gaan na die programskedule. As jy in Sydney bly, hou jou oog op al die programme wat voor 13h00 in die dag (RSA tyd) en na 21h00 (RSA tyd) op is vir ons somermaande en voor 14h00 in die dag (RSA tyd) en na 22h00 (RSA tyd) vir ons wintermaande.

Vir alle ander tye speel 'n robot DJ afrikaanse musiek dat dit klap.

Om na lewendige musiek te luister vanaf my blog, kliek eenvoudig op die volgende skakel aan die regterkant van my blog...



Uitsaaines Live gaan soos wat die nuwejaar in verskillende stede rondom die wereld aanbreek lewendig mense vanuit daardie tydsone op die lug plaas...

Friday, December 28, 2007

Die jaar draai

Julle wonder seker teen hierdie tyd al wat vang ons aan, want dit was maar betreklik stil hier in my blog dagboek. Die jaar staan alweer einde se kant toe en die lewe gaan aan. Dit voel soms nog soos gister wat ons laasjaar Desember met ons buurman in Wierdapark oor die muur gestaan en gesels het oor ons planne om Australië toe te trek. Baie water het intussen in die see geloop. Groot verwikkelinge het die afgelope jaar in ons lewens plaasgevind. Dit was as 'n blote gedagte begin het, is nou 'n werklikheid. Ek het toe nog nie eens geweet of ek 'n werk gaan kry in Oz nie, of ons VISA aansoek gaan slaag nie, of selfs in watter stad in Australië ons gaan opeindig nie. Ons lewe vorentoe was to maar net 'n ruwe boomstomp...nou het die figuur van 'n duidelike houtbeeld vorm aangeneem.

Desembermaand was vir my 'n besondere besige maand by die werk. Een ding wat ek van die Aussies kan sê is dat hulle regtig hardwerkende mense is. Daar word nie rondgesit en tyd verspil nie, en hulle skrik nie om hande uit die sakke te haal, skouer aan die wiel te sit en dinge te laat gebeur nie. Op 20 Desember het ons ons jaareind funksie by Efendy, 'n moderne Turkse restaurant in Balmain gehad. Met die geleentheid het die vrouens die kans gekry om bietjie die mense te ontmoet saam met wie hul mans elke dag werk. Dit was 'n baie gesellige geleentheid en ons het oor alles en nog wat gesels. Ek werk vir 'n maatskappy met slegs 9 werknemers, dus was dit 'n baie intieme geleentheid.

Aan die begin van die maand (2 Desember) is ons deur 'n baie vriendelike Turkse vrou uitgenooi om haar 40ste verjaarsdag saam met haar familie in eg Turkse tradisie te gaan vier. Hulle is al sedert die 1960's hier in Sydney nadat hulle van Europa af hiernatoe ge-emigreer het. Daar was 'n magdom kos omdat koskook blykbaar een van hulle lewensroepings is. Na die ete het ons kinders saam met hulle swetterjoel nefies en niggies aan 'n speletjie ddelgeneem waar 'n groot karton arbei met lekkers gevul en opgehang is, en elke kind dan 'n beurt gekry het om die gedoente met 'n stok te slaan. Sodra van die lekkers dan uitval duik die kinders om handevol lekkers op te tel.

Nog iets wat ons hierdie maand gedoen het was om in die omgewing van die Hunter Vallei noord van Sydney te gaan stap. Wat my altyd verbaas oor Sydney is hoe gou jy in die natuur kan kom deur slegs 'n uur of twee uit Sydney uit die pad te vat. Ons het saam met Afrikaanse vriende van ons 'n 'Forestry Hut' naby Barrington Tops gehuur vir die naweek van die 15-16de Desember. Dit is sowat 300 km of 4 ure se ry van ons af. Ons het die Pete's Ridge afdraai vanaf die Sydney-Newcastle snelweg geneem en al met die klein dorpies langs gery tot by die Moonan Brook Forestry Hut naby Barrington Tops. Die presiese koordinate is hier. By een van die klein dorpies het ons 'n yslike groot metaal renoster teëgekom wat Russel genoem is....seker vernoem na Russel Crowe, wat ok mos van Oz afkomstig is. Die gedoente is omtrent so lank soos 'n kar.


Oraloor in die Hunter Vallei kom mens wingerde teë. En dit lyk vir my of daar 'n kunstenaarsroete is omdat baie skilders blykbaar die omgewing besoek vir inspirasie. Die huis waarin ons gebly het was in die 1800's gebruik as 'n skool vir die delwers se kinders aangesien die omgewing op 'n stadium die middelpunt was van 'n groot goudstormloop. Ons het in die aande vir ons 'n lekker groot kampvuur gemaak met 'n hele hoop hout wat die eienaar voorsien het en gesit en gesels langs die "Bush Telly". Die kinders het dit natuurlik baie geniet omdat ons vriende se twee seuns beide met net 'n maand van ons twee kinders in ouderdom verskil.


Die gebied is deel van die Barrington Tops natuurreservaat en ons het heerlik saam met die kinders in die reëwoude gaan stap. Op sommige plekke was die woude baie soortgelyk aan die woude wat ons in New Zealand teëgekom het. Oraloor was boomvarings en mos teen die bome. Daar is baie mooi uitsigte oor die vallei vanaf die Barrington Tops roete wat op plekke hoër as 'n kilometer bo seespieël bereik. Op een plek het ons in 'n woud gaan stap waar die bome so dig teenmekaar groei dat baie min lig die woudvloer bereik. Behalwe vir die sagte gesuis van die wind deur die boomtoppe wat wieg en kraak in die wind, was die atmosfeer in die woud gevul met die klank van 'n magdom voëlgeluide. Ek het vir julle so 'n grepie afgeneem van die pragtige en eienaardige klanke wat een voel in die woud gemaak het. Die eggos en geluide in die agtergrond was die kinders wat wegkruipertjie tussen die boomstompe gespeel het.

video


Ou-kersdag het ons die oggend na Bicentennial Park (by die Sydney Olympic Park) gaan fietsry saam met die kinders. Ons het twee fietse by die 'Shop' naby Australia Avenue gehuur (daar is selfs tandem fietse om te huur) en ek het my Rollerblades saamgeneem. Ons het toe so 2 ure deur die menigte fietspaadjies van die park deurgebring as familie. Mens ry tussendeur welige "Mangrove" woud wat langs die soutwater groei. Dit was baie lekker.

Kersdag het ons saam met vriende 'n kers-piekniek gaan hou by Wisemans Ferry Park, so 31 km van ons af langs die Hawkesbury Rivier. Ons het vooraf die kos in die oond gaargemaak en daar gaan piekniek hou, gekuier en eers na donker teruggekom.

Op die 26ste, "Boxing Day", het ons saam met Aussie en New Zealandse vriende 'n egte Aussie BBQ geniet. Die kinders is saam op skool en hulle het lekker saam gespeel. Alhoewel ek nou nie juis 'n aanhanger is van die vienna worse wat die Aussies hier op hul BBQ offer nie, kon ons darem vir hulle bekend stel aan ons eie "Steak and Tjops" spesery wat ons op die skaaptjops gegooi het. Ons het baie lekker gekuier en gesels oor alles van All Blacks, die Wallabies tot die Springbokke. Na die tyd het ons saam met hulle tradisionele Christmas Pudding (amper soos vrugtekoek met brandewyn, maar net baie meer klam) en Pavlova geëet (wat die Kiwi's volhou van New Zealand en nie van Oz kom nie) .

Vanmiddag na werk het ek die trein en bus net tot by Epping stasie geneem. Vroulief en die kinders het my toe daar kom oplaai en ons het sommer reguit deurgeskiet na Harbord of Curl Curl strand toe. Dis net so 32 km van waar ons bly in die Hills en 'n wonderlike strand. Die kinders het heerlik baljaar in die see en ook hul pa moeggemaak deur hom rond te laat hol op die strand. Ons het ribbetjies en soetmielies gesit en eet en tot na 8 (want dis dan nog lig) op die strand gesit en luister na die branders, die seilbootjies op die see gevolg en gekyk hoe die talle jong mans en vrouens paddle-ski op die branders. Hierdie is na my mening een van die beste strande om te besoek omdat dit so lekker naby is.

Ons het die afgelope jaar baie nuwe vriende ontmoet...mense van Brittanje, New Zealand, Oz, Turkye, Sicily, Kanada, Libanon. Stadig maar seker, soos wat ons die brug van ons kant oorsteek, kom ons agter dat die mense van Australië ons ook in hulle harte en huise innooi. Ons kom agter dat ons almal maar presies dieselfde is.

Sunday, December 23, 2007

Kersfees onder die Suider-Kruis : en wat dit met 'n geskenk uit te waai het




Welkom, o stille nag van vrede,


onder die Suiderkruis,

Wyl stemme uit die ou verlede

oor sterrevelde ruis:

Kersfees kom, Kersfees kom -

gee aan God die eer.

Skenk ons ’n helder Somerkersfees

in hierdie land, o Heer.



Hoor jy hoe sag die klokke beier

in eeue-oue taal.

Kyk, selfs die nagtelike swye

vertel die ou verhaal.

Kersfees kom, Kersfees kom -

gee aan God die eer.

Skenk ons ’n helder Somerkersfees

in hierdie land, o Heer.



Voel jy ook nou Sy warm liefde

as ons die dag gedenk,

toe Hy sy Seun aan ons gegee het -

ons grootste Kersgeskenk.

Christus kom, Christus kom -

gee aan God die eer.

Skenk ons ’n helder Somerkersfees

in hierdie land, o Heer.


geskryf en getoonset deur: Koos du Plessis









Hierdie tyd van die jaar haas miljoene hulle na winkelsentrums om peperduur geskenke te koop, half geindoktrineer deur reklame en haas onkundig waaroor dit alles gaan.

Hoe dit ook al sy, en op watter presiese dag van die jaar dit ok al gebeur het dat Jesus as 'n baba "lammetjie" hierdie wêreld deur 'n stal binnegekom het - een ding is seker, Hy het vir ons 'n geskenk kom gee wat ons nooit kan verdien nie:

"Toe spreek Isak met sy vader Abraham en sê: My vader! En hy antwoord: Hier is ek, my seun! En hy sê: Hier is die vuur en die hout, maar waar is die lam vir 'n brandoffer?
En Abraham antwoord: God sal vir Homself die lam vir 'n brandoffer voorsien, my seun. ...
En toe Abraham sy oë opslaan, sien hy meteens 'n ram wat agter in die bos met sy horings vasgeraak het. En Abraham het gegaan en die ram geneem en dit as brandoffer in die plek van sy seun geoffer.
Genesis 22:7-13

"Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!" Johannes 1: 29

"maar Hy het, nadat Hy een slagoffer vir die sondes gebring het, vir altyd gaan sit aan die regterhand van God" Hebreers 10:12

"Toe het ek voor die troon...'n Lam sien staan, die Een wat geslag was....
Net toe die Lam die boek neem, het die vier lewende wesens en die vier en twintig ouderlinge voor Hom gekniel. Elkeen van hulle het 'n siter gehad en 'n goue bak vol wierook, die gebede van die gelowiges.
Toe sing hulle 'n nuwe lied: "U is waardig om die boek te neem en die seëls daarvan oop te maak omdat U geslag is en met u bloed mense vir God losgekoop het uit elke stam en taal en volk en nasie. Openbaring 5:6-9

"Lewe in liefde, soos Christus ons ook liefgehad en om ons ontwil sy lewe as 'n offergawe gegee het, ja, 'n offer wat vir God aanneemlik was.." Efesiers 5:2

Tuesday, December 11, 2007

Ons is nou op Medicare

Noudat ons die permanente VISA het kan ons mos op die regering se gratis mediese fonds kom. Dus is ons Donderdagaand na die Medicare in Castle Hill winkelsentrum omdat hulle Donderdag aande laat oop is en omdat alle lede van die familie wat oor 18 is hulself persoonlik moet gaan vertoon saam met hul paspoorte. Ons is dadelik gehelp, het eenvoudig ons paspoorte oorhandig en binne 10 minute het ons tydelike Medicare kaartjies gekry. Hierdie medies betaal natuurlik net ingekontrakteerde fooie en die res betaal mens self in...tensy jou privaat medies die res betaal.

Die vrou was baie vriendelik en ons het sommer gelyktydig aansoek gedoen vir die CentreLink family assistance waarvoor ons kwalifiseer omdat ons kinders het. Mens is ook geregtig op 'n verdere bedrag omdat my vrou nie nou werk nie. Sodra dit goedgekeur is word die bedrag eenvoudig elke 2e week in ons bankrekening inbetaal. Mens kan gaan uitwerk hoeveel jy op geregtig is by www.centrelink.gov.au.

Monday, December 10, 2007

Goedemorgen aan al mijn bezoekers uit Nederland

"Goedemorgen aan al mijn bezoekers uit Nederland, ik hoop dat u zult genieten van uw bezoek aan mijn nederige blog."


Ek het bietjie na die statistiek op my blog gekyk en was nogal aangenaam verras om te sien hoeveel besoekers aan die blog vanuit Nederland afkomstig is. Hetsy dit oud Suid Afrikaners is wat nou in Nederland bly en of dit van ons eie Nederlandse voorvaders se kinders is wat nog al die jare daar bly sal ek nou nie weet nie, sal graag van julle wil hoor. Ek was noga altyd gefassineer deur die feit dat daar 'n volk ver oor die see is wat amper dieselfde taal as ek praat en liefhet.

Ek het die volgende statistiek oor die besoekers:



Uit die bogenoemde statistiek van die meer as 18517 bladsy besoeke sedert November 2006 is 'n hele 12% van die besoekers afkomstig vanuit Nederland. Wat meer is...ons Afrikaanse mense stel gewoonlik ons rekenaar se taal op Engels, wat beteken dat die 14% mense wat "Dutch"/Hollands praat, dus hoofsaaklik Nederlandse mense moet wees! Ek besef egter dat baie vanuit Duitsland en België ook Afrikaans kan verstaan (5%) Terloops...ek is 'n baie groot aanhanger van Dana Winner se musiek.




Sunday, December 09, 2007

'n Lekker Hoëveldse donderstorm

Sydney se Weste en Noorde is nou net getref deur een van daardie tipies Hoëveldse donderstorms. Ons voel sommer heel tuis hier nou, want binne 'n kwessie van 20 minute was daar donker donderwolke, klipharde weerlig en donderweer, 4 cm deursnee haelkorrels, sluise water en sommer skielik was die son weer uit asof daar niks gebeur het nie. Maar oral in ons woonbuurt lê blare en takke. Die groen perskes lê gestrooi in ons agterplaas.

Die hael was gemiddeld so groot soos 'n groen perske...3-4 cm in deursnee.

Ons avonture in New Zealand : Terug na ChristChurch deur Authur's Pas

Sjoe, lyk vir my ons is aan die einde van die avontuur. Ons het vroeg vanoggend vertrek, soos beesmis gemaak en in die pad geval... Wat meer is daar om te sê. Daar is tonne groen gras in NZ, vrek baie mere vol kristalhelder, wit en blou water, berge vol ys en die mooiste uitsigte wat mens maar voor kan wens. Dit was 'n wonderlike tyd saam met mekaar as gesin, 'n vakansie om vir altyd te onthou! Ons beskou onsself as baie bevoorreg om hierdie plekke te kon sien.

Nou is dit terug na waar ons tuiste is....Sydney, die mooiste stad wat ons ken.

Kyk na ons laaste dag se skyfievertoning of volg die laaste dag se kaart terug tot by die lughawe.

Dankie dat julle die rit so 'surf-surf' saam met ons deurgemaak het.

Ons avonture in New Zealand : Hokitika na Jackson's retreat in Arthur's Pas

Vrydag 30 November 2007

Gaan kyk na die kaart met vandag se fotos, of kyk na die skyfievertoning.

Nadat ons vanoggend vertrek het en net so 'n draai deur Greymouth gaan ry het, is ons terug en het die pad deur Arthur's Pass geneem in die rigting van ChristChurch. Ons het beplan om vannand êrens langs die pad te oornag in 'n karavaanpark voor ons more weer terug sou ry ChristChurch toe. Daar is ook 'n trein wat tussen Greymouth en Christchurch ry deur hierdie pas. Mens ry omtrent heeltyd langs 'n rivier. Vanoggend was dit mooi oopgetrek, maar so teen die aand se kant het die mis oor die berge in die pas neergesak. Die plek waar ons oornag is Jackson's Retreat genoem. Dit is einde laasjaar hier geopen en na my mening die heel bes toegeruste karavaanpark van die hele lot. Die badkamers en kombuisgeriewe is gelukstaande aan 'n 5-ster hotel! En ek trek nou niemand se been nie. Mens kan sien hierdie mense het baie moeite met hul neseier gedoen. Die hele karavaanpark word omring deur bergstroompies..amper soos op 'n eiland. Die middag het ons die staproete deur die reënwoud net agter die park gaan doen. Die paadjie is baie goed gemerk en daar is niks plekke waar mens se kinders kan val of seerkry nie. Die paadjie is netjies oopgesny en jy word omring deur 'n magdom voëlgeluide soos wat jy deur die +-2 km roete stap. Mens kan ook verder teen die berg op stap as mens wil...daar is blykbaar 'n kwarts myn van vroeër jare.

Saturday, December 08, 2007

Ons avonture in New Zealand : Vanaf Haast na Hokitika

Donderdag 29 November 2007

Gaan kyk na die kaart met vandag se fotos, of kyk na die skyfievertoning.

Ons het vandag vroeg in die pad geval. Daar was 'n groterige afstand om af te lê en ons wou so gou as moontlik in die pad kom. Normaalweg sou ek eers so 'n entjie langs die strand gaan stap het om die sonsopkoms te bewonder...maar dis mos die weste en die son kom nie hier op nie.

Die daaglikse roetine is om die gasbottel van die 'lorrie' toe te draai, die kragpunt te ontkoppel, die grys water (dis nou die skottelgoedwater) uit te tap en natuurlik ook die drein kapsule leeg te maak. Daarna was on op ons pad. Die eerste dorpie wat ons deur is, was Fox Glacier. Behalwe vir 'n paar kafees, 'n e-pos en internet diens en 'n kroeg of twee was die doropie maar hoofsaaklik ingestel op toeriste. Oraloor word helikopter vlugte bemark om die berge en gletsers van bo af te gaan beskou. Daar was ook 'n afdraai na die Matheson meer, 'n mens moet so 'n entjie stap en jy is daar. Ons het egter maar besluit om verder te ry...alreeds ons weeklikse kwota mere, watervalle en riviere gesien. Die volgende plek was Franz Joseph Glacier. Oppad het ons oor die Waiho rivier gery wat letterlik soos melk gelyk het so wit was dit. Die klippe was rooi geroes...dalk is daar baie yster in hierdie klippe? Daar is bittermin plantegroei in hierdie riviere.


Voordat ons by Hokitika gekom het, het ons by 'n klein kafeetjie langs die pad gestop om bietjie kos te koop om liggaam en siel aanmekaar te hou. Die plek se naam is 'The Bushmans's Cafe & Bar'. Ek het eers gedink dit verwys dalk na die boesmans in die Kalahari omdat die Suid Afrikaanse vlag heel prominent daar gehys is saam met ander lande se vlae. As mens nou al ooit 'n negosiewinkeltjie gekry het wat elke bietjie dollar uit 'n honger toeris wil tap, dan is dit daardie ou plekkie. Elke denkbare handgemaakte stuk wat gered is van die ashoop en weer opgedollie is sal jy daar kry. Daar is selfs 'n 'museum' van ou goed waardeur jy kan gaan loop nadat jy betaal het...en jy word streng gewaarsku om nie hul 'pavement specials' af te neem met video kamera nie...seker om nie die 'misterie' te verloor nie. Daar is allerhande soorte bos-kos te koop - selfs Possum Pie, wat blykbaar van Possum vleis gemaak is (onthou julle nog die Possum nagapie dierasies van die Koala Park...). Net oorkan die straat van 'The bushman's cafe' is nog 'n kafeetjie: 'Possum Delights', wat vir my aandui dat Possums dalk hier nogal ieetwat van 'n pes is - hoekom anders sal daar die gerugte wees dat hulle verorber kan word?

In Hokitika aangekom is seker die mees opvallende eienskap hulle kloktoring in die middel van die dorp se 'roundabout'. Ons het by die karavaanpark net so entjie noord van die dorp aan die linkerkant ingeboek. Hierdie plek is na my mening een van die bes toegeruste parke van al die wat ons teëgekom het hier. Ek het vannaand vir ons lekker skaaptjoppies op die BBQ gebraai en was vannaand bederf met 'n baie mooi sonsondergang oor die see.

Ons avonture in New Zealand : Vanaf Wanaka langs die mere tot by Haast aan die weskus

Woensdag 28 November 2007

Gaan kyk na die kaart met vandag se fotos, of kyk na die skyfievertoning.

Gaan kyk na die kaart met vandag se fotos, of kyk na die skyfievertoning.Dit was weer tyd om verder aan te beweeg. Hierdie keer na die weskus van NZ. Of dit baie gaan herinner aan die Weskus van Suid Afrika sou ons nie weet nie. Ons was eers van plan om by Franz Joseph Glacier te oornag, maar omdat ons gisteraand so bietjie koud gekry het, het ek besluit om eerder by Haast aan die weskus te oornag. Dit was ten minste by seevlak en bietjie verder van die yskoue bergpieke. Die pad wat ons gery het na die weskus vanaf Wanaka meer, draai so ent weg na die meer Hawea wat jy aan jou regterkant kry. Die pad kronkel dan tussen die berge deur sodat mens dan weer meer Wanaka aan jou linkerkant kry, want die mere is verbind aan mekaar.


'Lake Hawea' holiday park is teenaan die meer geleë en ons was nogal jammer dat ons nie eerder hier gaan afsaal het nie omdat dit so mooi gelyk het. Net as mens dink hierdie meer se water is blinker of blouer, dan kom jy weer om 'n nuwe draai een teë wat jou weer van plan laat verander. Op hierdie stadium dink ek 'Lake Wanaka' is die blouste en mooiste.

Hier is nog 'n panoramiese foto wat ek van Wanaka meer geneem het.

By Makarora, net nadat jy van die Wanaka meer af weg is, het ons gestop by 'n koffiewinkel met baie atmosfeer. Hulle het daar vlae en nommerplate van baie lande oraloor opgeplak. Ons het daar iets vir oggend 'tea' geëet. Die eienaar maak sommer self vir die mense koffie.


Die Makarora rivier wat al lanks die pad loop is 'n mooi ligblou kleur. Ons het op 'n stadium uitgeklim en met 'n paadjie na die 'blue-pools' oor 'n hangbrug geloop waar die kinders met die rivierklippe in die water gespeel het. Soos op meeste plekke waar water so volop is sien mens die kenmerkende 'baard' mos wat teen die bome groei. Ons het gereëld dieselfde lang 'baard' teen die bome hoog in die Drakensberge gesien toe ons altyd daar gaan stap het.


Suid Afrika het ook sulke mooi plekke soos hier in New Zealand. Met die verskil dat mens dit hier ten volle kan geniet omdat jy nie heeltyd vir jou veiligheid vrees nie. Hier is hope en hope toeriste. Baie ry met 'Campervans'. Ons het by Te Anau 'n paartjie ontmoet wat van Denemarke kom. Ons het ook baie mense gesien wat met fietse oor die berge ry en dan sommer net met 'n tentjie in die veld of by kampplekke slaap. Toerisme sou na my mening ook baie groot kon gewees het in SA indien toeriste as 'gaste' gesien was en nie as 'prooi' vir 'n groot hoeveelheid 'elemente' in die samelewing nie!

Toe ons by Haast aankom het ek bietjie met 'n smal paadjie gestap na die see om te sien hoe dit hier lyk...en ek het 'n plek tegemoetgegaan tataal onaangeraak deur die mens, ongerep. Dit herinner mens nogal aan 'n strand waarop Robinson Crusoe net sowel kon uitgespoel het.

Ons avonture in New Zealand : Vanaf Te Anau na Wanaka

Dinsdag 27 November 2007
Vandag het ons die pad terug gevat na Queenstown se omgewing. Ons het die 'Crown' pas geneem net na Queenstown en het 'n wonderlike uitsig van die omgewing daarvandaan gekry.

Dit was egter nogal 'n ervaring op sy eie om met 'n amper 4 ton kampeer-van teen die' styl pas uit te ry en vroulief het 'n paar keer lekker ge-stress as ek so soek vir die regte rat. Die 'lorrie' het gelukkig ook brieke soos 'n regte 'lorrie' en dus kon ons maklik teen die afdraandes afry met die enjin 'brieke' (kompressie brieke) wat kompleet soos 'n groot vragmotor syne 'grrrr...grrrrr' teen die berge af gemaak het. Maar ons het verder gery tot by Wanaka (wat in Maori 'Verkwikking van die siel' beteken) en by Wanaka meer se karavaanpark gaan inboek vir die aand. Die meer lyk voorwaar soos 'n spieel met rimpelings op en dit weerkaats die berge in die agtergrond.


Die dorpie se aktiwiteite draai hoofsaaklik om die meer en wateraktiwiteite, so ons het toe maar so 'n draai op die trapbootjies gaan gooi saam met die kinders. Wat egter baie interessant was, was die 'Puzzling World' museum wat 32 jaar gelede deur Stuart Landsborough hier begin is. Daar is 'n tamaai ware-grootte doolhof met 1.5 km se gange, wat 'n gemiddelde persoon (as hy nie moed opgee en die 'emergency exit' gebruik nie) sowat 1-2 ure neem om te voltooi nadat hy gemiddeld 3-5 km geloop het voor hy dit baasgeraak het. Daar is ook hologram fotos, allerhande optiese illusies teen die mure, asook 'n kamer waar jy in 'n optisie illusie kamer kan rondloop waar die hele vloer skeef is...water opdraande loop en jy op 'n stoel kan gaan sit waar jy self 'opdraande' beweeg. In 'n ander kamer kan jy en jou kinders in teenoorgestelde kante van die kamer gaan staan en tog presies ewe groot lyk. Wanneer jy dan agterom loop en by die ander deur inkom lyk dit of daar 'n reus by die kamer inkom. Daar is ook heelwat speel legkaarte en driedimensionele 'speelgoed' soos onder andere die Rubik's Cube waarmee die kinders kan sit en speel.

Gaan kyk na die kaart met vandag se fotos, of kyk na die skyfievertoning.

Ons avonture in New Zealand : Ons besoek aan Milford Sound

Maandag 26 November 2007
Omdat ek nie graag die pad na Milford Sound met die kampeer-'van' wou ry nie, het ons gister vir ons 'n 'Coach & Cruise' bespreek waar iemand ons met sy bus na Milford Sound (waar daar diep Fjords uitgekerf is deur gletsers, en wat nou deur seewater gevul is) geneem het en dit 'n bootrit vir die hele familie ingesluit het. Ons het reeds so 7h45 op die bussie geklim. Die busbestuurder se naam was Merv, en hy was baie vriendelik en het regtig uit sy pad gegaan om die dag onvergeetlik te maak. Omdat dit net ons gesin en 'n paartjie van Indië af was (ek dink hulle was op hul 'honeymoon'), het Merv feitlik oral langs die pad vir ons gestop sodat ons kon fotos neem. Vandag was seker die hoogtepunt van ons avontuur op die Suid eiland van New Zealand. Ons het die mooiste weerkaatsings van die sneeubedekte berge in die water van die rivier gesien.


Daar was woude, wat vir my kompleet soos die woude in 'Lord of the Rings' gelyk het. Op die plekke langs die pad waar ons gestop het kon ons deur woudpaadjies gaan stap waar daar ongelooflike digte woud is met bome en grond wat geheel en al met mos bedek is.

Milford Sound kry gemiddeld 7-9 meter reënval per jaar!! Dit is nou seker die beste tyd om die plek te besoek omdat die reën so bietjie opgeklaar het. Merv het gesê dat hierdie week die eerste week in 6 maande is wat die busse toegelaat is om te stop langs die roete as gevolg van die gevaar van sneeustortings. Die roete word dwarsdeur die jaar oopgehou en daar word beheerde sneeustorings uitgevoer met dinamiet om die gevare van groter sneeustorings ('avalanches') te voorkom.

Op die 'red boat' boot van 'Encounter' cruises waarop ons in die Fjords of 'Sounds' ('n kleiner Fjord van so 60 meter diep) het die bemanning ons alles van die omgewing vertel. In die wintermaande is die loodregte pieke wat so uit die diep water uittroon bedek met sneeu wat teen die rante afstort. Oral is daar watervalle teen die loodregte wande. Die kaptein het die boot reg onder deur die watervalle geneem en dan kon die mense op die boot met reënjasse onder die water gaan staan wat dan op die boot gestort het. Dit is nou somer hier, maar glo vir my...dit was yskoud op die boot. Dit het gevoel of ons in die middel van die winter êrens op 'n boot ter see was. Dit het nogal komies gelyk...sommige van die bemanning wat op die toer kommentaar gelewer het, het met kort hempies in die ysige misreën voor op die boot gestaan terwyl al die passasiers met dik wintersjasse en serpe gestaan en luister het. Toe ons oppad terug was, het daar 'n hele skool dolfyne voor die boeg van die boot kom speel en ons kon beleef hoe hulle van naderby lyk in die oop see. Hulle het vir 'n hele paar kilometers so onder en langs die boot gespeel.

Die see wat mens hier kry is die Tasman see, tussen Australië en New Zealand. Daar was ook pelsrobbe op die rotse langs die loodregte kranse. Daar was toebroodjies en lekker warm koffie op die boot en ons het dit sommer baie geniet. Oppad terug het ons by 'n hele paar plekke gestop waar die ongesmelte wit sneeu nog langs die pad gelê het. In my lewe van 35 jaar het ek nog nooit aan regte sneeu geraak nie! Ek het dit nog net altyd op fotos, op die TV nuus of op die berge van ver af gesien. Ek het al wel aan wit hael geraak, maar nog nooit aan vars sneeu nie. Vandag het ek die kans gekry om dit vir die eerste keer te beleef, want ons kon op die afgestorte sneeu langs die pad loop en die tekstuur daarvan voel.


Die lug was nogal nie so koud soos wat ek dit voorgestel het nie. Die sneeu neem baie lank om te smelt en teen die tyd wat dit weer begin winter word, dan is daar nog baie sneeu van die vorige winter oor. Ons het ook 'n Kea 'papegaai' gesien wat hier in die koue bergtoestande leef. Toe ons vannaand terug is in Te Anau en 'n lekker bord kookkos by die eetplek op die dorp eet, het ek ook vir die eerste keer in my lewe 'Pavlova' geëet. Dit is mos soos Australië se nasionale poeding amper soos wat malva poeding dit in Suid Afrika is. Baie lekker, amper iets soos 'n kruising tussen skuimpies en 'Lemon Meringe' tert.

Gaan kyk na die kaart met vandag se fotos, of kyk na die skyfievertoning.

Ons avonture in New Zealand : Af na Te Anau

Sondag 25 November 2007
Ons het vroeg klaargemaak en weer in die pad geval. Hierdie keer na Te Anau in die Suid Weste. Aanvanklik het ons al langs die Wakatipu meer gery. Die pad het nogal baie kronkels op party plekke langs die meer en herinner mens soms aan die kronkels daar by Chapman's Peak in die Kaap. Na die meer ry mens verby honderde groen plase met 'n ongelooflike hoeveelheid skape en beeste. Oral is dit groen, 'n pragtige gesig met die sneeubedekte pieke in die agtergrond.


Op sommige plase het ons ook wildsbokke gesien. Daar was ook 'n Lynnwood Park langs die pad, asook 'n Lynnwood Road. By Te Anau het ons bietjie gaan kyk hoe die seilbootjies op die meer vaar. Ons het die karavaanpark buite die dorpie gekies omdat dit 'n mooier uitsig van die berge en die meer gebied het.


Die strand langs die meer is maar hoofsaaklik 'n klipstrand met ontelbare rivierklippe, maar as gevolg van die wind was daar wel klein branders. Ons het besluit om by 'n koffiewinkel in die dorpie vir ons lekker 'flat white' koffie en toebroodjies te gaan kry. Die mense was baie vriendelik en die kos baie lekker. In die klein supermark het ek sulke klaargemaakte koffie, melk en suiker in 'n 'tandepaste' buisie gesien. Jy voeg net kookwater by. Baie slim vir stappers en mense wat kamp dink ek. Mens kry ook so buisie met kondensmelk. Lyk my hierdie mense weet van lekker kamp!


By die kamp het ons die mooiste uitsig vanuit ons 'campervan' se agterste venster gehad. Dit was soos om die berge op jou agterstoep te hê! Ek het vir ons lekker tjoppies BBQ gemaak op die gasbraaier en ons het met die son wat sak oor agter die berge die dag afgesluit.

Gaan kyk na die kaart met vandag se fotos, of kyk na die skyfievertoning.

Ons avonture in New Zealand : Vanaf Omarama af na Queenstown

Saterdag 24 November 2007
Ons het vanoggend eers so na 10h30 in die pad geval. Ons bestemming was Queenstown, wat nie so ver was nie en ons het die pad rustig gevat en die natuurskoon bewonder. Oppad na Queenstown wissel die veld langs die pad van bruingroen na grasgroen en op plekke is daar sulke plate klein geel blommetjies wat die veld versier. Op baie plekke tref jy skape aan. Hulle staan in sulke groot hoeveelhede op die groen weiding dat dit jou soms herinner aan die trosse bosluise rondom 'n weggooibrak se ore.


Mens kan sien dat die New Zealand se boere elke greintjie van hulle plase benut en mens sien gereëld trekkers op die lande besig om tamaai heuwels om te ploeg vir aangeplante weiding. Daar is ook oral wilgerbome langs hierdie pad, asook ander bome wat soos groen populiere lyk. Daar is die mooiste valleie gevul met bome en met riviere wat daardeur loop. Daar is ook baie 'Kersfees' bome soos ek dit noem. Bome wat soos dennebome in vorm lyk, maar waarvan die blare anders lyk omdat dit nie naalde is nie (alhoewel daar ook is met naalde).

Een van die dorpies waardeur ons was se naam is Tarras waar daar onder andere 'n koffiewinkel is. Daarna is ons verby 'Lake Dunstan'. In Cromwell was daar sulke tamaai groot voostellings van plaasvrugte soos appels en pere en so ent daarvandaan het ons by 'n padstal aangedoen waar ons die lekkerste neute, vrugte en sjokolade lekkers gekoop het. Daar is ook 'n baie goed versorgde groot roostuin net langsaan dit.


Daarna is ons al langs die Kwarau rivier langs waar daar eens op 'n tyd goudsoekers was. Daar is ook 'n hidroëlektriese skema in die rivier. Die water in hierdie rivier is so 'n melkerige ligblou kleur. Uiteindelik kom mens by die dorpie Queenstown uit in die berge. Dit lyk kompleet soos Heidi se berge iewers in Switserland. Selfs die houthuise is oral in dieselfde boustyl gebou. Ek is seker hierdie plekkie word in die wintermaande oorval met mense wat hier wil kom ski. Toe ons daar aankom het ons heel eerste in 'n baie beknopte karavaanpark ingeboek. Dit is geleë in die hartjie van die dorpie Queenstown. Mens kom dadelik agter dat die hoof industrie van hierdie plekkie sekerlik toerisme moet wees. Oral waar ons gegaan het was daar net Europese toeriste van onder andere Duitsland. Ek moet sê, ons het heel tuis gevoel tussen so baie mense wat ook verskillende variasies van die Europese tale gepraat het. Vir hulle het ons seker maar net soos Hollanders geklink. Ons het besluit om met die Gondola (kabelkarretjie) hoog op te gaan teen een van die berge. Oral langs die rit is daar net 'kersfeesbome' waar jy kyk.


Bo op die berg was allerhande aktiwiteite waaraan die toeriste kon deelneem. Soos onder andere die Luge (klein kaskarretjies), waarmee my vrou en seun tog te lekker so 'n entjie langs paadjies (amper soos in 'n 'bobslee') afgery het. Mens kan baie ver sien oor die hele area van bo teen die berg af. Die Wakatipu meer strek dan so ver as wat die oog kan sien. Daar was ook ander aktiwiteite soos bungi spronge, maar ons het nie dit gedoen nie. Toe ons daar klaar was, het ons bietjie deur die dorpie gaan stap en uiteindelik vir ons by Subway vir ons aandete gekoop. As mens aandete eet is dit natuurlik nog helder lig, want hier sak die son eers amper 9 uur die aand. By Subway het daar 'n ou gewerk wat van Brazilië af is, hy was nuuskierig om te weet van waar ons is, omdat ons vir hom so 'Dutch' klink.

Gaan kyk na die kaart met vandag se fotos, of kyk na die skyfievertoning.

Hier is 'n panorama van Queenstown.

Monday, December 03, 2007

Ons avonture in New Zealand : Op die Suid Eiland vanaf ChristChurch na Omarama

Donderdag 22 November 2007
Vandag vlieg ons ChristChurch toe met 'n binnelandse vlug. Dus, het ons gelukkig nie nodig gehad om deur die doane te gaan nie...

...ok maar goed, want toe ons vanoggend opstaan was my seun weer aan die beurt om siek te wees. Hy het gekla dat hy nie lekker voel nie en naar is. Wat kon dit tog veroorsaak...sommer so uit die bloute uit! Ons het vandat ons hier aangeland het seker gemaak dat ons net gebottelde water drink...as mens in 'n vreemde land is is jou maag mos nog nie gewoond aan al die nuwe bakterieë nie. Nou ja, wat mens nie dood maak nie maak jou sterk, want vanoggend loop nou nie juis volgens plan nie! Ons moet 11h30 inboek vir die vlug en hier is dit nou al 10h00 en hy gooi op en kan nie op sy voete staan so naar is hy nie. Wat gaan ons maak met 'n siek en naar kind op die vlug? Ons MOET vandag vlieg, want ons akkommodasie was net tot gisteraand, ons vlug kan nie gekanselleer word sonder om die geld te verloor nie en ons moet die 'Campervan' later vandag in ChristChurch kry! Wat nou gemaak? Ons was nogal paniekerig. Ons moet ook nog die huurmotor vol maak met brandstof, dit gaan aflaai en dan moet ons nog by die binnelandse vertreksaal ons kaartjies gaan afhaal en ons bagasie inboek.

Terwyl my vrou die bagasie solank reggekry het is ek toe weer met my siek seun dokter toe. Hy kon nie eens die rit dokter toe doen sonder om op te gooi nie...wat nog van 'n vlug na 'n ander eiland toe. Ons moes toe maar soos al die ander in die wagkamer gaan sit en wag. Nadat ek vir hulle vertel het dat ons nog 'n vlug moet haal het hulle ons toe in die 'therapy room' laat sit en wag vir die dokter. Na 'n hele ruk op hete kole het 'n vrouedokter ons gesien. Hulle gee hier nie 'suppositories' nie. Dit veroorsaak blykbaar 'neurological problems' by kinders. Maar hoe gaan ek hom nou kry om die naar-medisyne in te hou? Teen 11h15 staan ek toe nog in die ry van die apteek om die medisyne te kry. Die dokter het gesê hy moet maar net elektroliete inneem en dat dit waarsynlik 'n maaginveksie is. Hulle gee toe vir my die elektroliete in so 'n liter bottel... Sug... Nou hoe gaan ek die' bottel op die vliegtuig kry as mens net 100ml in 'n deurskynende sakkie kan saamneem? Uiteindelik gee hulle ons toe aanmaak elektroliet poeier.

Nou ja, so teen 11h45 jaag ek daar weg terug motel toe om die res van die familie op te laai, want ons het 'n vliegtuig om te haal in 'n vreemde land, en wragtig, vandag was die dag wat ons dit gaan verpas as ons nie opskud nie! En ons moes nog gaan petrol ingooi. Alles gebeur mos in stadige aksie as mens haastig is! Gelukkig was die Apex huurmotor mense so vriendelik gewees om sommer in dieselfde kar ons te gaan aflaai by die regte plek en dan self die motor verder te neem. Dankie tog. Teen 12h30 kom ons eers by die lughawe aan (vir 'n vlug wat 13h00 vertrek!), hardloop met tasse en kinders na die Qantas inboek toonbanke, wat aan die heel einde van die lughawe gebou is! Ons kom soos 'n klomp deur-die-weer resiesperde daar aan wat hul bagasie al agterna sleep. Net betyds boek ons die bagasie in. My seun hol maar so met 'n tupper bakkie saam om die ergste op te vang as hy nie meer kan hou nie. Nadat ons bagasie ingeboek is kondig hulle al af dat die passasiers vir ChristChurch na die regte poort of hek moet beweeg... Voor ons ons kon kry sit ons in die vliegtuig. Wat 'n gejaag. Kort voor lank is ons in die lug en sien ons die lappies en lappies groen skakerings onder ons al hoe kleiner word. Die vlugpersoneel het nog skaars die 'cream-crackers' en kaas uitgedeel (want dit is mos 'n laekoste vlug), toe kondig die kaptein al aan dat ons begin afdaal na ChristChurch.

Daar aangeland kies ons koers na die naaste uitgang. My vrou bel die mense van 'Pacific Horizon' en binne 'n ommesientjie is daar iemand wat ons met 'n bussie kom oplaai en na hulle perseel neem. Ons het reeds 'n rukkie gelede 'n 6 bed 'motor-home' of Campervan by hulle bespreek. Ons gaan die Suideiland plat ry in hierdie 'lorrie'! Dit het 'n dieselmotor, weeg amper 4 ton, het 'n yskas, mikrogolf oond, stoof plate, 'n TV, gas verhitting, 'n stort, toilet, wasbak, opwas-'sink' asook hope laaie en kaste. Ons het nog nooit voorheen so iets aangepak nie. Ons het besluit om nêrens plek te bespreek nie en eenvoudig die pad te vat deur die Suideiland en te ry soos wat ons lus het. Dit was net 'n kort rukkie se papierwerk en toe is ons gereed om te gaan. Die meisie wat ons gehelp het, het, het my vlugtig touwys gemaak met al die tierlantyntjies aan die wa, soos onder andere om die rioolwerke se magasyn by die 'dumping stations' van die karavaanparke leeg te maak. As iemand ooit Robin Williams se fliek 'RV' gesien het, dan sal julle onthou dat dit nogal 'n ...spul kan afgee as mens daai deel van die lesing sou mis.
Ons het nie 'n GPS vir die Suideiland gehuur nie, dus was ons terug in die middeleeue met papierkaarte. Gelukkig ken ons van kaartlees. Vroulief tree as navigator op...'short left...caution caution...pasop vir die geel streep....jy gaan al weer oor die geel street!' bestuur my 'backseat driver'. Die eerste bestemming was die winkelsentrum...om voorrade te kry vir die mobiele huis, soos witgoud byvoorbeeld. Het iemand al probeer om 'n 6 meter lang, meer as 2 meter breë, 4 ton, 'pre-fab' huis by 'n besige winkelsentrum te parkeer? Die 'n geringe takie nie! Maar gelukkig is die bestuurdersitplek amper 1.5 meter hoog, wat die petalje darem makliker maak om te dryf. Vroulief het gou voorrade gaan koop by 'The Hub' winkelsentrum, waar ons gestop het en ek het by die kinders in die huis gesit en wag. So 17h00 se kant is ons toe daar weg oppad Ashburton toe. Dit is gelukkig net so 'n uur se ry uit ChristChurch na die kenisse waar ons gaan kuier. Ons het net voor ons uit Sydney gevlieg het agtergekom my kleinniggie bly nou reeds 5 jaar hier in NZ en ons het gereël om vannaand daar by hulle te oornag. Hulle kom van Wonderboom Suid en ek het haar nog voor ons troue laas gesien. Ons was oppad om te oornag op hulle 'lifestyle block' (wat die Kiwis 'n 2 hektaar stuk groen land hier noem waarop hulle 'n paar skape en beeste kan aanhou). Ons het ons 'Campervan' sommer in hulle tuin gestop. Hulle het ons onthaal met lekker braaivleis, pap en sous en ons het tot laat die aand gekuier.

Vrydag 23 November 2007
Die volgende oggend het hulle vir ons hul skape, beeste, hoenders, ganse en nog wat gewys. Dis toe dat ons sien dat een van sy skape siek is en opgeswel is. Ek het gou saam met hom na die bure gery om hulp te vra, waarna ons veearts toe is, wat die skaap ingespuit het...klink my dit was toe longonsteking! Ok g'n wonder nie, want blykbaar het die somer nou eers hier by hulle aangebreek, en dit kan baie koud word hier.

Teen 10 uur het ons totsiens gesê, in die pad geval en koers gekies oppad na die groot mere in die binneland van die Suid-eiland. Ons het deur heelwat kleinerige plekkies gery oppad na die eerste karavaanpark by Omarama...daar was Geraldine, Fairlie en Twizel. Oral sien mens net skaap! Baie skaap. Spilpunte wat lowergroen gras natspuit, hoë boom-heinings, hier en daar 'n rivier vol geel struike en plek plek borde wat aandui dat die 'Fire Danger' baie laag is...'n feit wat ons nogal agtergekom het as mens so na die baie groen gras kyk. Oral langs die pad sien mens plaasimplemente. Hier en daar is wit padwerkers aan die paaie werksaam. Miskien het hulle nog nie van regstellende aksie gehoor nie. Ons het ook heelwat wit vrouens gesien wat die Stop/Go bord vashou by hierdie padwerke. Interessant. In die verte sien mens die sneeubedekte pieke al nader kom. By sommige plase is daar sulke groen heuwels wat hoeka soos die Microsoft Windows 'Desktop Wallpaper' lyk, met die verskil dat dit vol skape is! Oral langs die pad is daar geel en piek en pers veldblomme...die soort wat mens gewoonlik by 'n kwekery moet koop en in jou tuin aan die lewe probeer hou. Die eerste meer wat ons by kom is 'Lake Tekapo' waar ons vir 'n wyle gestop het om fotos te neem. Die water hier het so 'n vae blou skynsel en die plantegroei langs hierdie meer is nou nie juis indrukwekkend nie, maar die sneeubedekte berge agter dit maak die prentjie die moeite werd.

Hier is 'n panorama wat ek met CleVR gemaak het van my fotos van Meer Tekapo...

Die plantegroei langs die pad het ook algaande minder groen begin word sodat dit naderhand amper net soos in die Karoo begin lyk het - kompleet soos daar by die Drie Susters. Ek moet sê...New Zealand herinner mens op versekeie plekke nogal baie aan Suid Afrika. As mens na die wye verskydenheid plante kyk voel mens nogal tuis hier, maar om een of ander rede was die vreemdheid in die mense vir ons bietjie meer as in Oz. Ons het telke male nogal terugverlang na ons huis in Australië. Terug na die rit...

So 'n entjie verder met die pad kom ons by die mooiste meer uit wat ons nog ooit gesien het...'Lake Pukaki'. Dis soos om een van die mere uit 'Neverending Story' tegemoet te ry. Van vêr af lyk dit soos 'n see van glas of kristal, en die sneeubedekte pieke in die agtergrond maak dit 'n ongelooflike gesig. Ongelooflik. Onbeskryflik mooi. Gelukkig het ek baie fotos geneem...anders sou julle my wragtig nie geglo het nie - wel, julle kan seker nogsteeds dink ek het die fotos gedokter.

Hier is die panorama wat ek van die fotos gemaak het.

Ek het ook fotos geneem van die baie pienk, pers en violet blomme wat mens oral langs die pad teëkom.



Die eerste karavaanpark waar ons aandoen is in die dorpie Omarama op die oewer van 'n rivier, met 'n stroompie wat daardeur vloei en met pragtige vreedsame treurwilgers wat dwarsdeur die kamp groei. Die koste vir 'n familie wissel tussen NZ$42 en NZ$60 by die verskillende parke. Terwyl die koel luggie waai daal duisende donsveer saadjies soos sneeuvlokkies na benede. Al die staanplekke het kragpunte. Daar is kleedkamers met storte, skottelgoed en wasgoed-was geriewe, plekke waar jy gratis kan gasbraai asook 'n Internet kamer. By meeste van die parke kon ons ook Wyeband Internet koepons koop en inskakel met ons laptop teen 'n tarief van so NZ$6 per halfuur...ons het maar besluit om dit te los vir as ons terug is. Ek het vir ons lekker hamburgers op die BBQ gemaak en toe het ons die 20 min staproete langs die rivier af gaan doen met die pragtige berge oral rondom ons. Die sonsondergange hier lyk net so ongelooflik mooi soos by my ouers in Beaufort Wes met die son wat die skemerhemel letterlik aan die brand steek.


Terwyl ons na sononder sit en drink het aan 'n lekker koppie koffie het die voëls vanuit die bome die mooiste liedjies gemaak. Wat 'n wonderlike manier om 'n dag af te sluit...

As julle na die kaart wil kyk met die fotos van vandag...hier is dit.
Of die skyfievertoning...

Sunday, December 02, 2007

Ons avonture in New Zealand : Ons kry ons VISA in Auckland en besoek plekke noord van Auckland

Woensdag 21 November 2007
Vandag was die dag wat ons moes inry na die Australiese missie by die Auckland waterfront om ons PR 136 VISAs in ons paspoorte te laat inplak. Dit is per slot van sake die hoof rede waarom ons op hierdie 'duur' vakansie moes gaan uit Australië uit.

Julle kan die kaart vir vandag se fotos hier kry.
Of die skyfievertoning kyk.

Ons is so net na 9 die oggend weg by ons motel. Die pad in stad toe is nogal besig in die oggende...ok maar presies dieselfde as tussen Pretoria en Johannesburg in die oggende. Gelukkig het ons die Navman gehad en ons het darem nie verdwaal nie. Die Aussie missie se kantore is in die PriceWaterhouseCoopers gebou se 7de verdieping, 188 Quay street, direk by die waterfront. Julle kan die presiese posisie by hierdie foto kry. Daar is 'n groot parkeerterrein en mens loop direk in die ingangsportaal in. Jy kies die kantore waar jy wil heengaan op 'n groot bord, en dit dui dan vir jou aan watter een van die hysbakke om te neem om tot by die regte vloer te gaan. Daar aangekom moes ons soos een van ten minste 31 persone wat toe alreeds daar gesit en wag het 'n kaartjie neem en in die ry gaan sit. Elke kort kort gaan daar 'n 'beeper' af wat die volgende nommer aandui op 'n bord. Dit was nog so 20 nommers voordat ons aan die beurt sou kom. Daar was nog net 120 minute oor...dit het beteken hulle moes ten minste elke 6 minute een persoon help sodat ons betyds klaar sou wees. Ons was nogal benoud, want die kantore is op Woensdae net tot 12h00 die middag oop en ons kon net vandag dit kom doen het omdat ons reeds vir more vliegkaartjies bespreek het na ChristChurch. Om die volgende dag weer in te kom stad toe sou ons dit fyn moes sny omdat ons alreeds 11h30 moes in-check vir die vlug.

Saam met ons was daar Chinese, Hollanders, heelwat Maoris asook 'n Zimbabwiër wat vir ons vertel het dat hy op 'n short stay business visa in Oz is en gereeld hierheen vlieg om dit te kom hernu. Uiteindelik was dit ons beurt. Ons het eenvoudig ons paspoorte vir die vrou gegee en sy het agter in 'n kantoor verdwyn. Ek het nogal bietjie ge-stres...Wat as hulle dit nie vandag kon doen nie? Wat as ons vandag ons paspoorte moes ingee en dit weer more kom haal? Wat as die inligting nog nie deurgestuur is van Sydney af nie? Ek het op my selfoon my Gmail gelees en daar was 'n e-pos van die immigrasie departement af: 'Visa Granted' het dit gesê! Hulle moes dus eers wag dat ons bevestig het dat ons uit die land is voor hulle dit goedgekeur het. Hierdie was mos 'n offshore VISA en mag dus nie goedgekeur word terwyl jy nog in Australië is nie.

Gelukkig was ons vrese ongegrond! Na sowat 2 minute kom die vrou terug met ons VISAs klaar in die paspoorte. "Congratulations", sê sy, "you are now permanent residents!" Ek was nogal beindruk. Sonder dat ons eers moes kla, dinge oor en oor herhaal, heen en weer gestuur word, of selfs allerhande papiere en dinge moes saambring (behalwe die enkele brief waarop die 'Case nommer' staan). As mens eens op 'n tyd aan Afrika diens gewoond was, dan is dit asof alles daarna net makliker en makliker word. Immigrasie is die bult, waarna alles moontlik net afdraande is. Op elke plek word jy dan verbaas met hoeveel beter die diens is in hierdie geweste...

Toe ons daar klaar was, was dit asof ons op die wolke loop. Ons het nou permanente verblyfreg in Australië!! Hoe hard het ons nie hieraan gewerk nie. Dit was die beloning van meer as 'n jaar se moeite. Uiteindelik is daar 'n plek waar ons tot ruste kon kom. Iewers waar ons wettiglik kon bly so lank as wat ons wou. Dit het gevoel of ons 'n baie kosbare skat gevind het. Iets wat baie mense na soek, maar net 'n handjie vol beskore is. Wat 'n voorreg! Ons het met reg baie dankbaar gevoel. Dit is nie iets om ligtelik op te neem nie. Sonder dit sou ons altyd soos tydelike bywoners voel, maar nou kan ons wettiglik aanspraak maak op meeste van die voorregte van burgers van Oz.

Ons is toe daar weg na die waterkant, het by 'n restaurant met die naam "Imperial" 'n lekker ontbyt gaan eet en het daarna die pad noord van Auckland gevat om bietjie na die strande te gaan kyk. Hier kry mens nogal iets soos "Shell Ultra Cities" wat mens in Suid Afrika kry, maar wat ek nog nie in Oz gesien het nie. Sommer gou by een gestop en brandstof ingegooi...hier doen mens dit ook self, en dit begin nou al soos tweede natuur voel, vergete is die dae toe die pompjoggie dit moes doen omdat ons "pleps" nie vertrou kon word om dit self te doen nie...wel, hier kan die mense ook vertrou word om dit self te doen. Ons het toe hier en daar by die mooi strande aangedoen noord van Auckland, en toe so 100km of so verder noord gery voor ons teruggedraai het huistoe. Iets wat mens agterkom van NZ, is dat daar selfs op die mees verafgeleë paaie nogsteeds posbusse langs paaie te sien is.

Hier kan mens feitlik 'n brief by enige plek in die land afgelewer kry by jou hek, gee nie om waar jy bly nie, want die Rural Postal Service sal sorg dat dit afgelewer word.

Toe ons vanaand terugry huis toe het my dogtertjie begin kla sy voel nie lekker nie. Sy wou die laaste paar dae nie regtig eet nie. Sy was nogal warm en toe ons terugkom by die huis was haar koors baie hoog. Ons het gou by die naaste apteek aangedoen en koors medisyne gekry, maar omdat ons nie die kans wou vat dat ons dalk in die nag hospitaal toe moes jaag nie, het ons toe sommer by die publieke kliniek aangedoen. Jy betaal daar NZ$21 vir 'n konsultasie en sien een van die baie midde oosterse dokters wat lykmy hier werk. Die mediese dienste lyk maar baie skraps, maar ons het die dokters wat ons gehelp het baie geduldig en toegewyd ervaar. Teen hierdie tyd was my dogter se koors reeds 39 grade. Ons was nogal baie bekommerd, want hier sit ons op die verste uithoek van die aarde, ken g'n kind of kraai nie, en ons het 'n kind wat baie siek is. Die dokter het medisyne voorgeskryf, ons aangeraai om haar 'n stort te gee en te monitor. Dit was blykbaar keel infeksie. So deur die nag het ons haar weer medisyne gegee omdat haar koors nog nie gebreek was nie, maar die volgende dag was sy baie beter en die koors was weg.

Ons avonture in New Zealand : Ons rit na Rotorua deur die boerderye en terug langs die kus van die Noord Eiland

Dinsdag 20 November 2007
Voordat ons Oz verlaat het moes ons vir ons Case Officer ons reisplanne epos. Hy sou dan die Australiese missie laat weet dat ons Permanente Verblyfpermit toegestaan is en hulle maar die bewys in ons paspoorte kan aanbring. Dus het ons besluit om hulle maar vandag nog 'n ekstra dag kans te gee om seker te maak alles is afgehandel as ons daar kom.

Ons het vandag besluit om die pad van Auckland te vat na een van die baie ou vulkane (een van iets soos 49). Die plek se naam is Rotorua. Die pad daarheen neem ons deur 'n magdom groen, lowergroen, grasgroen, mielieblaar groen en goedbesproeide groen plase. Daar is vrek baie skape hier. Daar is vrek baie beeste hier. Het ek al gesê hier is baie skape? Ek glo nie ek het al ooit so baie skape en beeste in my lewe gesien nie. Hulle staan die groen heuwels vol soos donse op die vorige jaar se donskombers, of nee...soos bosluise op 'n weggooibrak se lyf. Oral.

Hier moet baie boere wees...om die waarheid te sê, ek dink die meeste mense hier is boere... Soos wat ons ry kom ons ook agter dat die plaashuise hier hoofsaaklik van hout of sink gebou is. Plek plek is daar egter plaashuise van klip, maar meer op die suid-eiland. Baie ver van die luukse 'mansions' in Suid Afrika of die peperduur huise met plakpapier bakstene soos in Oz.

Nog iets baie interessant wat ek hier opgemerk het is dat die mense op die meeste plase so 'n digte ry bome reg rondom hulle plaas geplant het wat hulle 'n 'hedge' noem en baie netjies snoei sodat dit sulke drie tot vier verdieping groen mure rondom hulle huise en wingerde vorm. Ongelooflik. Oral waar jy kom is daar sulke mure. Daar is selfs plekke waar hulle 'n 3D doolhof gemaak het met hierdie bome. Dit is ook so dig toegegroei dat mens onmoontlik daardeur kan sien. Ek dink hierdie mure keer die wind baie effektief in die wintermaande af van hulle wingerde en boorde op hulle plase. Of dit, of die NZ mense is baie gesteld op hul privaatheid. Oral waar mens kom is daar spilpunte en besproeiing. Hierdie mense pomp water asof dit nooit uit die mode gaan gaan nie! En as ek so na al die mere kyk in NZ dink ek ook nie dit sal nie. Dit is vrugbare eilande hierdie!

Ek het elke dag se fotos vir julle met die GPS posisies gemerk sodat julle presies tot op minder as 10 meter akkuraat kan sien waar omtrent ons die fotos geneem het. In enige een van die albums kan julle eenvoudig op die 'View Map' knoppie kliek om te sien waar al die fotos geneem is. Kies dan die foto wat julle wil sien van die kaart af. Hier is 'n die eerste kaart. Andersins kan julle op enige foto in die album kliek en dan op die kaart regs onder by 'Photo Location' sien waar die foto geneem is. Hier is die skyfievertoning van vandag.

By die Cambridge Country store (wat eens op 'n tyd 'n kerk geboutjie was) eet ons toe 'n lekker Country ontbyt. Wonderlik lekker. Die winkeltjie self is gevul met die geure wat mens nogal aan Suid Afrika se Mr. Price Home laat dink, vol geurige seep asook allerhande snuisterye, botteltjies en ingelegde konfyte te kies en te keur. Net voor Rotorua kry mens onder andere 'n plek waar mense in 'n moewiese opblaasbal teen die heuwel afrol, 'n binneshuise ski-oord, plekke waar mens quad bike kan ry en ook in 'n luge (amper soos 'n mini kaskar) teen 'n steil heuwel kan afry.

By Rotorua is die reuk van swael in die lug baie skerp. Langs die pad kan mens sien waar die stoom uit 'n magdom plekke uit die aarde uitborrel. Die hele Rotorua is geleë op die plek van 'n baie ou vulkaan wat nou al baie jare dormant is. Maar steeds borrel vuurwarm stoom oraloor uit die grond te midde van die skerp reuk van swael in die omgewing. Ons het bietjie die poele waar die stoom so borrel gaan besoek en dit lyk kompleet asof jy by 'n smeulende vulkaan rondloop. Sjoe maar dit stink! Swael sulfied se moses! Ons is toe daarna na die Rotorua Aquatic Centre waar ons vir so twee ure in die louwarm water van die binneshuise swembaddens gaan swem het. Daardie water word darem net verhit deur die stoom, en is nie van die poele afkomstig nie. Ons het ook by Lake Rotorua gaan inloer - 'n groot binnelandse meer binne in 'n baie ou vulkaan. Die water hier is so vol swael dat dit ooglopend ondrinkbaar is en meer lyk soos 'n maanlandskap as enigiets anders, met die verskil dat daar baie water is. Daarna het ons weer die pad noorde toe gevat en met die see langs teruggery na Manukau City in Auckland. Oraloor kry mens langs die pad steeds die baie hoë boom-heinings, so asof niemand wil toelaat dat mense in hulle erf in moet kan sien nie. Op talle plekke was daar egter padwerke en die verkeer terug was op plekke baie erg, sodanig so dat ons op een plek amper 40 minute baie stadig gery het of selfs stilgestaan het. In Te Puke het ons by 'Subway' vir ons aandete gekoop. Dit was toe reeds amper half sewe in die aand maar nog helder lig. Hier word dit mos eers amper half nege die aand donker. So 120 km van Auckland het die plantegroei begin verander met baie boomvarings langs die pad. Mens ry so tussen die klowe al langs die rivier. Die omgewing is baie mooi. Ons het ook 'n baie mooi sonsondergang gesien oppad huistoe.

Ons avonture in New Zealand : Van Sydney na Auckland

Soos julle seker teen hierdie tyd al weet het ons na Australië toe gekom op 'n tydelike 457 VISA van 3 jaar. 'n Mens se verblyfvoorwaardes is dan gekoppel aan die maatskappy waarvoor jy werk. Indien jy vir een of ander rede nie meer vir hierdie maatskappy werk nie, moet jy 'n ander 'sponsor' kry...of jy moet sak en pak met jou ou kindertjies op die heup en jou ou vroutjie aan die hand terug. Wel, omdat die tyd aangebreek het dat die immigrasie departement 'n positiewe besluit moes neem om ons136 PR VISA toe te staan, het hulle ons per brief verwittig dat ons die land moes verlaat sodat ons met die permanente VISA in ons paspoorte weer die land kon binnekom. Hierdie keer moes ons op ons 'Incoming Passenger Card' andui dat ons status 'Migrating to Australia permanently' is. Die naaste en goedkoopste plek om heen te vlieg is natuurlik New Zealand (NZ), en dit was dan ook die bestemming wat ons vir onsself uitgekies het. 'n reis na Suid Afrika en terug sou ons vliegtuigkaartjies amper 3 keer soveel gekos het!

Nou ja (maats), kom ek vertel dan vir julle wat die afgelope 2 weke op ons New Zealandse avontuur met ons gebeur het. Ek het tonne fotos die afgelope 2 weke (3159 in totaal) van hierdie land geneem. Ek kan vir julle onomwonde sê: "Dis 'n pragtige land! Veral die Suid Eiland". 'n Paradys as jy 'n boer is (as jy my sou vra). Of dit 'n beter of swakker keuse as Oz is, moet elkeen maar vir homself besluit, want ons het nie vir daai rede daarheen gegaan nie en ons het doelbewus die groot stede en dorpe vermy omdat ons as eko-toeriste die natuurskoon wou gaan bewonder....

Die storie het so gegaan....

Sondag 18 November 2007
Opgewonde en met groot afwagting het ons vandag opgestaan om ons 'Air Emirates' vlug van Sydney Internasionaal na Auckland in New Zealand te vang. Ons vriendin laai ons by die lughawe af en dus is ons tasse reeds gister gepak en ons wag nou net om by die lughawe afgelaai te word. Ons vlug is 11h15 en ons moet al 9h15 by die lughawe wees. Dus ry ons net na 7 uur. Mens ry deur 'n totaal van 4 tonnels oppad lughawe toe: die Lane-Cove tonnel, die Harbour Tunnel onnderdeur die see, die Cross City Tunnel, en dan is daar nog so 'n tonnel net voor die lughawe. By die Internasionale vertreksaal aangekom, kom ons toe met 'n skok agter dat al die Emirates Air vlugte gekanselleer is as gevolg van digte mis oor Dubai. Wat doen ons nou? Ons het reeds vir die immigrasie departement laat weet dat ons uit die land gaan wees...

Nou ja, so staan ons toe maar saam met al die ander mense in die tou om ons vlug te herskeduleer vir die volgende dag. Gelukkig het hulle vir ons 2 Taxi 'vouchers' gegee: een vir terug huis toe en nog een vir terug lughawe toe die volgende dag, asook 'n meal voucher vir $60 omdat ons al so lank in die ry moes staan en wag het...alles op die onkoste van 'Emirates Air'.

Nadat ons eers 'n lekker Country ontbyt geëet het, is ons toe met al ons tasse na die Taxi rank om vir 'n slag te voel hoe dit voel om met 'n Sydney Taxi rondgekarwei te word. Jip...'n regte Taxi Rank, maar nie soos in Suid Afrika waar hordes minibussies om posisie veg nie, nee, hier word die Taxis een vir een aan passasiers toegeken en hulle wag hulle beurt af.

Die bestuurder is ooglopend vanaf die midde ooste en sy engels is maar skraps. Ons was in 'n japtrap by die huis, want sien, hy het al geleer hoe om te ry sodat hy seker nie boetekaartjies kry nie. Ons hoor hy het 'n paar taxis wat hy bedryf en hy neem voor om ons sommer die volgende dag by die huis te kom oplaai en lughawe toe te vat. Ons gee vir hom die 'voucher' wat die koste van sowat $84 dek van die lughawe tot in Cherrybrook...gelukkig het ons nie nodig gehad om dit te betaal nie!

Maandag 19 November 2007
Hier is ons weer oppad lughawe toe. Maar vandag ry ons in 'n taxi en word soos wafferse stralejakkers in 'n TAKSIE by die lughawe afgelaai. Die rit lughawe toe duur minder as 'n driekwartuur...en dit in spitstyd! Ons skiet in die "Bus lane" verby rye en rye karre wat geduldig sit en wag, net om weer aan die voorpunt voor die ander in te druk asof daar niks in die wêreld verkeerd is daarmee nie. Die taxibestuurder se bestuursstyl herinner ons nogal aan die minibus taxis in Suid Afrika wat al op die geel streep verby al die karre skiet en doodluiters weer voor indruk. Ek skat dis seker maar die oorlewingsdrang wat taxibestuurders wêreldwyd in gemeen het.

Gister was net die kleedrepetisie, vandag is dit die dag van die vertoning! Hierdie keer is ons kaartjies bespreek op 'Air New Zealand'...dus kan opondhoude in die midde ooste nie weer ons reisplanne omvergooi nie. Ons kry gou vir ons so NZ$600 om saam te neem by die bank (later het ek uitgevind dat dit bietjie te mins was vir al die uitgawes). Tjop-tjop is die bagasie ingeweeg en alles verloop ook vlot by doane. Die Aussie doane personeel maak grappies en is baie vriendelik. Ons is baie opgewonde oor die vlug en wag saam met baie ander in die vertreksaal. Een vrou vra of ons Suid Afrikaners is. Ja, sê ons trots...en daarby is ons oppad Auckland toe om ons permanente VISAs in ons paspoorte te laat sit. Sy bly blykbaar noord van Auckland.

Sommer gougou is ons op die vliegtuig. Ons vlieg in 'n Boeing 767/300. Die kajuitpersoneel is baie vriendelik. Hulle herinner my nogal aan 'n klomp hollanders...weet nie hoekom nie...dalk omdat hulle nie almal so opgetof is soos wat mens gewoond is nie. Na so 3 ure se vlieg land ons uitgerus in Auckland. Die man van die NZ doane wys my daarop dat my paspoort nog nie onderteken is nie...gedorie, die' paspoort is so nuut ek het dit nog nie eens agtergekom nie. Ons vertel hom dat ons hier in New Zealand is met vakansie en dat ons ook ons permanente VISAs in ons paspoorte gaan laat sit. 'n Mens het mos nie 'n VISA nodig om NZ te besoek nie...jy daag net hier op en vul op die besoekerskaartjie in dat jy aansoek doen op 'n permanente verblyfpermit...sommer net so...en dan kry jy 'n 3 maande verblyfpermit, sonder dat hulle eers nagegaan het of jy wel genoeg vondse het om hier te kan bly. Jy moet net die adres ken van jou hotel of motel waar jy gaan bly. Hy noem toe dat ons soveel keer kan kom as wat ons wil as ons eers die Australiese VISA het.

Toe ons daar klaar is, koop ek gou vir ons 'n Vodaphone selfoon SIMkaart. Jy sit dit net in jou foon, bel 777 en tik jou verkose PIN in. Binne 'n kwessie van 2 minute is jy op die lug met 'n NZ selfoonnommer. Selfs nie GPRS Internet werk dadelik. Die Internasional lughawe in Auckland is in Manukau City, 'n voorstad van Auckland. Die mense van APEX motorhuur kom laai ons op en neem ons na hulle perseel waar ons Mazda Familia vir ons wag. Ons laai die bagasie in en kry 'n Navman GPS om ons te help navigeer en is sommer gougou oppad na Manukau Motor lodge waar ons bespreek het vir 3 aande.

Ons hoof mikpunt in Auckland, wat op die noordeiland van NZ is, is om by die Australiese missie ons 136 VISAs in ons paspoorte te laat aanbring. Ons het die grootste deel van ons vakansie op die Suid-eiland bespreek omdat ons al die mooi plekke daar wil gaan besoek..nie die dorpe en stede nie.

Dit is vannand die tweede keer dat ons as volslae vreemdelinge in 'n vreemde land aankom. Een ding wat ek nogal opgemerk het...veral met die baie vreemder name as in Australië, is dat die kultuurskok of onbekendheid mens hier in NZ baie erger vang as in Oz. Mens voel baie meer UIT. Daar is ook ooglopend baie meer MAORIES in NZ as wat daar ABORIGINES in Oz is. Ek is nou reeds 6 maande in Oz en het seker al so 3 gesien.

Nog iets wat ek agtergekom het...die karre is VERSEKER baie ouer hier as in Oz. Sommige karre lyk of dit uitmekaarval en mens kom ook gou agter dat die wetstoepassing op die paaie hier minder streng is as in Oz. Jy sien ook meer mense die spoedperke oortree. Na 6 maande in Oz voel dit vir my as of die spoedbeperkings op die meeste paaie hier ten minste 10 km/h vinniger is as wat met veiligheid hier gery behoort te word. Ek verbaas myself nogal oor hoe vinnig die mense op hierdie paaie ry. Daar is egter iets bekends aan die manier wat die snelweë gebou is - dit herinner mens baie meer aan Suid Afrika se paaie omdat die snelweë soort van apart is van die woonbuurte en nie soos in Oz sommer dwarsdeur die voorstede loop nie. Die name van plekke is baie vreemd hier...soos Tekanini, Papakura, Papatoetoe en Rotorua. Mens besef dat jy nou op waarskynlik die mees verre plek is wat jy nog ooit in jou lewe was. Begrens met die Stille oseaan en veel verder suid as selfs Oz. Met 'daylight saving' is mens dan nog ook 11 ure voor Suid Afrika...amper halfpad om die aardbol!

Ek weet daar is egter baie mense wat NZ as 'n bestemming sien, en dit is waarom ek besluit het om al my fotos vir julle op te laai. Ek het ook die hele tyd wat ek in NZ rondgery en gestap het my Garmin Foretrex 101 aangeskakel gehad sodat dit elke 1 minuut 'n posisie gestoor het (amper soos wat Hansie en Grietjie die broodkrummeltjies gegooi het om te sien waar hulle oral geloop het). In die tyd wat ons hier was het ek oor die 5000 sulke posisies (met lengte- en breedtegrade asook hoogte gestoor). Vir die wat belangstel, het ek die volle avontuur se GPS punte vir julle op google maps gelaai.

Julle kan die fotos van die eerste dag by die picasa foto albums gaan beskou.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings